Johannesburg. – Europa se ekonomiese ellende het reeds Suid-Afrika se uitvoer begin knou.
Suid-Afrika het in Januarie ’n handelstekort van R13,5 miljard gehad, ná ’n handelsoorskot van R4,7 miljard in Desember. Dit was Suid-Afrika se grootste handelstekort in die afgelope drie jaar.
In Januarie verlede jaar was die handelstekort R4,9 miljard.
Uitvoer het met 14,3% tot R54 miljard afgeneem en invoer het met 15,8% geklim tot R67,5 miljard. Op ’n jaargrondslag het uitvoer in Januarie met 20,7% gegroei, maar invoergroei was veel vinniger op 35,9%.
Volgens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) was die tekort hoofsaaklik die gevolg van ’n afname in die uitvoer van edelgesteentes; metale; voertuie, vaartuie en vliegtuie; en masjinerie en elektriese toebehore. Die invoer van elektriese toebehore, oorspronklike komponente en chemiese produkte het terselfdertyd afgeneem.
Mnr. Jeff Schultz, ekonoom van Absa Capital, sê Suid-Afrika se handelsbalans toon sedert die vierde kwartaal van verlede jaar matige agteruitgang. Schultz sê ’n swak rand en hoër kommoditeitspryse was deels hiervoor verantwoordelik.
“Net so sorgwekkend, is die dooierige handel met van ons grootste handelsvennote, veral Europa, wat moontlik in die vierde kwartaal van verlede jaar in ’n resessie verval het.”
Suid-Afrika se uitvoer na Europa het in Januarie met R400 miljoen afgeneem tot R14,8 miljard.
Invoer uit Europa het met R3,1 miljard tot R21,1 miljard toegeneem.
Schultz sê Suid-Afrika se invoer uit Europa is terug op die vlakke voor die finansiële krisis, maar uitvoer is steeds 13% laer.
“Dit kan deels die sukkelende vertoning van kernsektore aan die aanbodkant van die ekonomie verduidelik.”
Original Article Posted On:
http://www.sake24.com